Kersvakansies is mos saamkom tyd, tyd om vriendskappe weer ‘n hubstoot te gee en koestertyd met familie. So ry ons elke jaar Postberg toe, van Yzerfontein so ietsie onder ‘n uur. Dis bly vir my ‘n spesiale roete maar die keer soveel meer.
Ons hartsvriende, Wilhelm en Anemie Boshoff, vir wie ons ook soos baie ander vriende, hopeloos te min sien, het hul huisie-by-die-see ‘n nuwe kleur en geurtjie gegee. Onopgesmuk, opreg en met soveel aandag aan onbelangrike detail vir Jan-Alleman, maar so spesiaal vir estetika-vrate soos ek. Met die hulp van ons argitek-vriend, Hardie van Schalkwyk, het hulle een van Postberg se historiese gehuggies in ‘n funksionele beelskone strandhuis verander.
Aandag is juis gegee aan die elemente wat die eienaars se fyn oog vir die spesiale in die lewe mooi oppoets maar ‘n fyn belans is behou om die ritme op die weskus te komplimenteer.
Elke kyk is vir my ‘n lekkerkry. Alles oorbodig is verwyder en net rou mooi en funksioneel het oorgebly. Vuil voete, raasbek kinders en te veel Sauvignon Blanc verdwyn moeiteloos in die detail.
Selfs die ou tradisionele bad en toilet op die voorstoep het sy nuwe baadjie aan. Subway teëls en boere-doepa gee lekker detail.
Ons besef weer almal ‘n groot voorstedelike huis met onthaalareas en gastekamers is so last season.
En dan is daar die gekuier. Die tafel loop oor met vars kleure, boerekos ontertone en elke familie se nuwe resep. Dis so oordadig dat ‘n tafeltema al lank voor die noenmaal sy gat sien.
En terwyl die grootmense stadiger begin praat gaan die visvang voort.
Op die Boshoffs!